"Ek kyk af na die water onneraan die krans. Diep, donker blou, ampertjies swart. Ammelee kolk dit daar, en dit skuim wit om die kant, en met die grootwater spat dit hoog op teen die growwe rots. Selfs met die kleinwater is die sand nooit oop daar onner nie. Maar vir die oorgee moet die kleinwater op pad is, dit moet sleepwater is, en ek sien dit is so, die gety is reg. Sulke tyd trek die Seegees alles wat altemit daar sou dryf baie sterk diepsee toe, dis die regte tyd vir offers."
'n Magiese roman oor die lotgevalle van die Land- en die Seestamme aan die suidkus van Afrika sowat honderdduisend jaar gelede. Dis die storie van Ama, jongvrou wat wil Storievrou en Moetievrou word, soos die ouvrou Maouma. Maar eers moet sy vrou word, die bloedgebed en die Eerste Ingaan beleef. Wie gaan haar herd-man wees? En waarheen verdwyn sy so skielik? Dis ook die storie van 'n magstryd: Wie gaan HoofmanOwerste van al die Seestamme word? En dis die storie van die mensheid se oorlewingstryd, want die omgewing kan nie meer almal voed nie. Sal dit help as hulle beter gereedskap kan maak? Durf hulle 'n groot taboe breek om te kan oorleef? En by dit alles moet die wyse Sjamaan sorg dat hulle die geeste tevrede hou.