Brandende Bos - Vier - Volg hulle geloof na
Geloofskarakters uit die Skrif
In hierdie dagstukkies bestudeer ons twaalf spesifieke persone: Abraham, Jakob, Josef, Moses, Samuel, Dawid, Salomo, Daniël, Johannes, Petrus, Paulus en Jesus Christus. In hierdie Bybelkarakters se lewens ontdek ons onsself. Ons ontdek dat God middellik werk en swakke en sondige mense in sy diens gebruik. Ons hoor die weerklanke van die evangelie reeds in die eerste boek van die Bybel en vind skaduwees van die Messias in hierdie Bybelkarakters se optrede en woorde. In elke karakter se lewe staan die genade van God voorop en herinner ons dat daar selfs vir die grootste bedrieërs, leiers met voete van klei en volgelinge wat hul Here verloën, oorvloedige en reddende genade is.
Die titel: Volg hulle geloof na, is uit Hebreërs 13:7 geneem. Dit moedig ons aan om ons geloofsvoorgangers te gedenk deur hul lewens te bestudeer. Die gevaar is groot dat ons hulle bloot as navolgenswaardige voorbeelde beskou, terwyl die skrywer van Hebreërs ons eintlik leer om hul "geloof" na te volg. Wat hulle as geloofshelde laat uitstaan, is hul geloof in Jesus Christus (vgl. Hebr. 11:13). Daarom sluit ons studie af met Jesus Christus - die enige "Navolgenswaardige". Hy is egter veel meer as 'n navolgenswaardige voorbeeld. Wie nie deur die geloof aan Hom verbind is nie, sal uiteindelik nie soos Hy kan wees nie.