366 Dagstukkies.
“Ek het al die strikke gesien wat die duiwel op aarde gestel het. Ek het gekreun en gesê: Wie kan daardeur gaan? ‘Nederigheid’, het ek ’n stem hoor sê” – Antonius die Grote (ca. 251-356).
Nederigheid is ’n belangrike deug wat alle gelowiges moet vertoon. Dit is egter nie die enigste Christelike deug nie. Die apostel Paulus roep gelowiges op om Christelike deugde te bedink (vgl. Filip. 4:8) en die apostel Petrus vermaan gelowiges om Christelike deugde te beoefen (vgl. 2 Petr. 1:5-7).
Ware deugsaamheid kom van God af. Hy het ons deel aan sy Goddelike natuur gegee en deug is ’n belangrike kenmerk daarvan. Ware deugsaamheid is die vrug van die werking van die Heilige Gees. Mag hierdie dagstukkieboek met sy bespreking van twaalf Christelike deugde lesers aanspoor om Christelike deugsaamheid, in die krag van die Heilige Gees, met vurige ywer te bedink en te beoefen.