In die laaste omnibus in hierdie reeks, wat nóg drie gewilde Saartjie-stories bevat, word Saartjie Baumann, die langbeenmeisie met die wipneus, kuiltjies in die wange en duisende duiweltjies in haar oë, se avonture voortgesit.
In Saartjie se boetie raak daar kort voor Apie se verjaarsdag geld weg uit die skool se personeelkamer en almal verdink hom van diefstal. Saartjie is oortuig haar boetie is onskuldig en doen alles moontlik om dit te bewys. Maar dit is moeilik, veral wanneer sy uitvind hy het skielik meer geld as gewoontlik . . .
In Saartjie se wedstryd moet Saartjie as kaptein van die netbalspan besluit wie in haar span gaan wees. Sy moet kies tussen haar boesemvriendin, Lina, en 'n koshuismeisie, wat ewe goed speel.
In Saartjie se afskeid sit Saartjie 'n boelie op sy plek en wys weer eens vir almal hoe dapper sy is. Sy skryf ook in vir 'n kompetiesie wat 'n reis na Amerika as prys aanbied.
Saartjie het 'n sjarme wat oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Saartjie en die Drie Muskiete se avonture meegevoer word.