ICO handhaaf die vertrekpunt dat die Here die opdrag gee om te vertel oor sy weë met sy volk. Daardie opdrag vind ons in Deut. 6:7 en Psalm 78:1 - 7. Hy gee die opdrag om d.m.v. die Bybel die groot dade van die Here aan verbondskinders te ontsluit. Sodoende leer die kinders die Here ken en dit leer hulle om op hom te vertrou.
Die vier belangrike lyne wat in elke verhaal die diepere betekenis en inhoud gee is:
Teosentries: God regeer. God die Vader is die Skepper, God die Seun is die Verlosser en God die Heilige Gees skenk aan ons die geloof.
Antiteties: Vanaf die sondeval is daar ʼn oorlog aan die gang. Satan wil die kinders van die Here afvallig en ongehoorsaam aan Hom maak. Gen. 3:15 is die moederbelofte waarin ons oorlog, vyandskap en belofte sien
Heilshistories: God kondig in die moederbelofte die Verlosser, Jesus Christus aan. In die Ou Testament werk die Here na die koms van die Messias. Ons sien dit in die beloftes, seëninge, persone, voorwerpe, feeste, offerdiens, geskiedenis en die Psalms
Verbondsmatig: God gee ʼn belofte met die verbond wat hy met die mens sluit, die belofte van ʼn land, nageslag, dat die Here sal sorg, beskerm, seën en die groot belofte van die Verlosser. God stel ook sekere eise in die verbond naamlik geloof, bekering en gehoorsaamheid. Daar is ook verbondsoordeel. Hy straf bv. die ballingskap. God hou sy verbond en is altyd lewewekkend besig
Die Bybelgeskiedenis wat ook heilsgeskiedenis genoem word, omdat die hele Bybel handel oor die verlossing (heil) van Christus word deur middel van ʼn goed begronde metodiek aan die kinders gebied.